Wat is die Trust?

Daar is al grappenderwys na die L.W. Hiemstra Trust as die weduwee se kruik verwys. Maar dis juis te danke aan die inisiatief van ’n weduwee dat honderde boeke in Afrikaans oor die afgelope meer as drie dekades kon verskyn wat andersins nooit die lig sou gesien het nie.

Rikie Hiemstra was getroud met die eerste taalredakteur van die destydse Naspers (nou Media24), dr. Ludwig Wybren (Louis) Hiemstra. Dit was haar idee dat die diep spore wat haar man as taalpionier getrap het – veral in Afrikaans se vormingsjare, en tot en met sy dood as medewerker en voorsitter van D.B. Bosman en I.W. van der Merwe (Boerneef) se Tweetalige Woordeboek – gehuldig word met ’n trust wat sy lewenstaak sou voortsit.

In 1984 het sy ’n ruim bedrag uit sy boedel vir so ’n trust bewillig. Dit moes gebruik word om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder en uitgewers in staat stel om boeke wat aan dié kriterium voldoen, te publiseer.

Sedertdien het ’n uitgebreide en kleurryke verskeidenheid titels verskyn, waaronder woordeboeke en biografieë, boeke oor die taalkunde, godsdiens, kuns, musiek, geskiedenis, die geneeskunde, ekonomie, volkskuns, natuurwetenskap, genealogie en sakebestuur, ook talle nuwe romans, digbundels, dramatekste en heruitgawes van klassieke reekse. Etlike hiervan het deur die jare toonaangewende pryse gewen.

Die Trust help die Instituut vir Blindes om hulle braille-publikasies te publiseer, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hulle vak- en literêre tydskrifte. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) ontvang aansienlike finansiële steun, so ook die aanlyntydskrifte en webwerwe LitNet, Stilet en Ons Klyntji, skrywersprogramme van Afrikaanse kunstefeeste, kulturele verenigings, soos die Vriende van die Nederlandse Biblioteek, toneelstukke en spesiale projekte, soos die Universiteit van Pretoria se Paul Kruger-navorsingsprojek.

Die Trust borg sedert 2001 die driejaarlikse L.W. Hiemstra-prys vir niefiksie, en stel in 2022, in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat, die Jaap Steyn-beurs vir ’n M.A. in kreatiewe skryfkuns in Afrikaans bekend.

Die huidige trustees is Helgaard Raubenheimer (voorsitter), afgetrede hoof uitvoerende beampte van Nasboek en ’n oud-uitgewer; Ton Vosloo, oud-koerantjoernalis en -redakteur en afgetrede voorsitter van Nasionale Pers; Elmari Rautenbach, joernalis en hoof van die US Toyota Woordfees se Skrywersfees; en Beverley Jackson, trustbestuurder by Absa Trust.

Louis Hiemstra by sy vrou, Rikie (Schulze), met wie hy in 1944, op 46-jarige ouderdom getroud is. Hulle het nie kinders gehad nie. Dit was haar inisiatief om  ’n bedrag uit haar man se boedel gebruik om ’n trust in sy naam te skep om Afrikaanse skrywers tot vandag toe help.

Louis Hiemstra by sy vrou, Rikie (Schulze), met wie hy in 1944, op 46-jarige ouderdom getroud is. Hulle het nie kinders gehad nie. Dit was haar inisiatief om ’n bedrag uit haar man se boedel te gebruik om ’n trust in sy naam te skep wat Afrikaanse skrywers tot vandag toe help.

Wat is die Trust?

Daar is al grappenderwys na die L.W. Hiemstra Trust as die weduwee se kruik verwys. Maar dis juis te danke aan die inisiatief van ’n weduwee dat honderde boeke in Afrikaans oor die afgelope meer as drie dekades kon verskyn wat andersins nooit die lig sou gesien het nie.

Rikie Hiemstra was getroud met die eerste taalredakteur van die destydse Naspers (nou Media24), dr. Ludwig Hybren (Louis) Hiemstra. Dit was haar idee dat die diep spore wat haar man as taalpionier getrap het – veral in Afrikaans se vormingsjare, en tot en met sy dood as medewerker en voorsitter van D.B. Bosman en I.W. van der Merwe (Boerneef) se Tweetalige Woordeboek – gehuldig word met ’n trust wat sy lewenstaak sou voortsit.