Wie was Louis Hiemstra?

As taalbouer tydens ’n pioniersera vir Afrikaans het Louis Hiemstra weinig gelyke.

Die bolip wat so op ’n plooi trek, sou enigiemand wat Doktor Hiemstra se rooi pen tussen die jare veertig en sestig meegemaak het jou kon vertel, het niks goeds voorspel nie. En beslis nie as jou taalversorging nie na wense was nie.

Ludwig (Louis) Wybren Hiemstra was immers een van die bekendste Afrikaanse taalkundiges van sy tyd.

Hy het enorme spore by die publikasies van die destydse Nasionale Pers (vandag Media24) getrap. As jong joernalissie by ’n ewe bloedjong Die Burger het hy dit selfs een aand gewaag om korreksies aan ’n hoofartikel van die eerste redakteur, dr. D.F. Malan, aan te bring. Die volgende oggend is hy gebied om op die rooi tapyt te verskyn. Maar skynbaar was sy verduideliking voldoende, want geen haan het daarna gekraai nie.

By Die Volksblad was hy eers joernalis en toe assistent-redakteur en het ook dikwels as redakteur waargeneem. Sy hoofartikels is deur ’n latere redakteur beskryf as “koel beredeneerd, wetenskaplik en sonder herhaling of omhaal van woorde, met argumente wat in een stuk klamp”.

In 1946 het hy die maatskappy se eerste taalredakteur geword en gou was “Vra vir Hiemstra” so alledaags soos “Google dit” vandag.

Hy was instrumenteel in die stigting van die huidige vorm van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die stigting van die Akademie se fakulteit vir natuurwetenskap en het op die Akademie se taalkommissie gedien. Hy was ook tot en met sy dood ’n medewerker aan en voorsitter van D.B. Bosman en I.W. van der Merwe (Boerneef) se Tweetalige Woordeboek, en het vier uitgawes ingrypend versorg. Hy het trouens die dag voor sy dood nog ’n taalrubriek vir die koerant geskryf en daarna met sy woordeboekwerk voortgegaan tot huistoegaantyd.

’n Formidabele stamboom

Die Hiemstra-stamvader, Sybren Wybren, was ’n legende op Lydenburg. Bekend as die man met een arm was hy ’n imponerende gesig met sy ruie swart baard en linkerarm wat kort bo die elmboog geëindig het in net ’n beduidenis van twee vingers.

Hy was die dorp se onderwyser, ’n Fries en die eerste Hiemstra wat hom in 1886 as vrygesel in Suid-Afrika gevestig het. Sewe jaar later is hy met sy assistent, die aanvallig-bloesende Duitse Johanna Pauline Mathilde, getroud, en op 3 Julie 1897 is hulle eersteling, Ludwig Wybren, in hulle sinkhuisie aan die hoofstraat gebore.

Ses boeties sou volg: Egbert, Siegfried, Alfred (wat as jongman aan swartwaterkoors dood is), Rudolph Walter (wat op net ses maande aan witseerkeel sterf), Rudolph Christiaan (Rudi) en Victor. Almal sou presteer, maar veral drie word bekende name.

Louis se jongste broer word later regter en die skrywer van ’n standaardwerk oor die Suid-Afrikaanse strafprosesreg. Rudolph eindig sy loopbaan as kommandant-generaal en hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag. Hy was ook ’n avontuurlike kalant, wat onder meer militêre attaché in Swede, Frankryk en Brittanje was en bevelvoerder van 2 Eskader van die Suid-Afrikaanse Lugmag, bekend as die Flying Cheetahs.

Klein Louis was die taalman. Hy kon van jongs af Afrikaans, Nederlands, Engels en Duits vlot praat, skryf en lees. Toe sy ma sterwend lê aan kanker, was dit hy wat vir lang periodes vir haar uit die Duitse Bybel sit en voorlees het.

In 1909 word dit tyd vir hom om vir hoër skole aansoek te doen, maar voor dit lê die beurseksamen voor – die gebruik in die destydse Transvaal. Rudolph beskryf in sy outobiografie, Die wilde haf, hoe die hele gesin saam opgetrek het vir dié gebeurtenis op Belfast en watter hoogtepunt dit veral vir die jonger Hiemstratjies was.

Louis se voorbereiding onder die streng toesig van hulle eie meester Hiemstra besorg hom die tweede plek in Transvaal én ’n beurs na die Pretoria College, vandag Pretoria Boys’ High. Maar daar dreig sy steeksheid om aan sport deel te neem en swak punte in matesis (wiskunde) so amper om sy universiteitsplanne te kelder. Gelukkig slaan hy wel ’n verdere studiebeurs los – en nogal na die Transvaalse Universiteitskollege (die oorsprong van “Tukkies” en vandag die Universiteit van Pretoria).

In sy eerste jaar in 1915 tref ’n ramp sy pa. Hy verloor tydelik sy salaris as onderwyser toe hy ­hom – onsuksesvol – as politieke kandidaat vir die toe nog onbekende Nasionale Party verkiesbaar stel, en die 18-jarige Louis spring in. Hy staak sy studies ondanks aantreklike aanbiedinge van Europese beurse en aanvaar ’n pos by De Volkstem-koerant, wat later Die Volkstem sou word en die Afrikaanse mondstuk van Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party in Pretoria.

Dié pos was die begin van ’n joernalistieke loopbaan wat eindelik gekenmerk sou word deur talle eerstes. Een was onder meer ’n 21-jarige Louis se artikel, “Ons eerste vrouwetydskrif”, in die debuut-uitgawe van Die Boerevrou in April 1919.

Later hervat hy wel sy studies in Pretoria en behaal hy ’n BA-graad in tale. Dit volg hy op met ’n MA-graad in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad. Tydens sy Tukkie-jare speel hy ’n leidende rol by die Afrikaanse Studentebond (ASB), waar hy ook die eerste landwye redakteur van die ASB se tydskrif, Die banier, is.

Die Natalse “junta”

In die twee dekades ná die draai van die eeu is die oorwegend Engelssprekende Natalse provinsie nie juis deel van Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners se onmiddellike verwysingsraamwerk as dit by taalsake kom nie. Tog is dit uit einste dié onverwagse oord wat Afrikaans – en veral die Afrikaanse taalkunde – in Mei 1917 ’n aansienlike hupstoot kry. Boonop met ’n formidabele vrou aan die stuur.

Mabel Jansen was die sekretaresse van die nuutgestigte Saamwerkunie van Natalse Kultuurvereniginge. Sy was ook die vrou van adv. E.G. Jansen, eerste Afrikaanssprekende en laaste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika. Dit was sy idee om al die Afrikaanse verenigings in die provinsie in een unie saam te snoer, en onder sy leiding dat die Saamwerk-Unie in die Gedenksaal van die NG gemeente Pietermaritzburg gestig is met die opdrag om al hulle lede tot “hegte en eendragtige optrede aan te spoor” ter bevordering van Afrikaans.

Op die eerste bestuursvergadering neem Mabel die leiding met die besluit om ’n skema vir eksamens in Afrikaans op te stel, en in September 1917 lê sy dit voor. Hierdie eerste Afrikaanse taaleksamen word deel van die toe bestaande Taalbondeksamen, maar die klem verskuif nou van Afrikaans en Nederlands na net Afrikaans.

Louis was een van die eerste 406 kandidate wat Mabel se Afrikaanse taaleksamen skryf. Die doel van haar eksamen was, in Mabel se woorde, “om die Afrikaanse taal soos ’n patatrank te laat groei sodat dit die hele Suid-Afrika oorrank”.

Dit het inderdaad gebeur. Die eksamen het ’n behoefte geskep aan ’n eerste Afrikaanse grammatika, wat Mabel sommer ook in 1917 saam met C.M. Booysen opgestel het.

Haar werk ontvang nie oral lof nie. In ’n berig in De Volkstem-koerant word na Mabel en haar span verwys as ’n “junta in Natal” wat hom aangematig het om ’n Afrikaanse grammatika te skryf en taaleksamens af te neem.

“Dit was nou vir hulle vreeslik dat iemand wat nie ’n doktorsgraad het nie, so iets kon aandurf,” sê sy in reaksie.

Tog was dit juis Mabel-sonder-doktorsgraad (maar darem ’n meestersgraad in Grieks en Latyn) se eksamen wat verskeie latere doktore, soos Louis Hiemstra, en selfs ’n toekomstige staatspresident, soos adv. C.R. Swart, van ’n stewige taalgrondslag verseker het. Vandag word die Taalbondeksamen aangebied deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, waarvan Mabel in 1920 die eerste vroulike raadslid geword het toe dit nog De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst was, en waarvan Louis ook raadslid was.

Dit was juis Louis se noue verbintenis met die Akademie en sy formidabele taalvaardigheid wat in 1942 gelei het tot die Akademieraad se opdrag aan hom om ’n verandering aan die Akademiewet se grondwet deur die Parlement te help stuur. Dié verandering sou die Akademie toelaat om ook ’n natuurwetenskaplike fakulteit te stig.

Louis het saam met onder andere adv. Henry Fagan gewerk, wat ’n leeue-aandeel gehad het aan die opstel van die wetsontwerp. Dit is sommer in dieselfde jaar, eenparig, deur die Parlement goedgekeur, wat die hoeksteen gelê het vir vandag se Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Steunpilaar vir Die Huisgenoot

Met Louis se aanstelling in 1927 op 30-jarige ouderdom by Die Volksblad raak hy bevriend met J.M.H. Viljoen – of Markus, wat eers die politieke redakteur en toe eerste nuusredakteur (voorheen tegniese redakteur) van dié baanbreker- en oudste Afrikaanse dagblad sou word. Dié vriendskap verdiep tot ’n uiters produktiewe en kreatiewe samewerking toe Markus in 1931 as redakteur by Die Huisgenoot aangestel word – toevallig nogal teensinnig, soos blyk uit ’n uitgebreide briefwisseling tussen die twee wat in die Pers-argiewe bewaar gebly het.

In sy briewe sê Markus Viljoen Louis moes eintlik op Die Huisgenoot se redaksie gewees het, en noem die direksie in ’n stadium selfs “swape” dat hulle nie áltwee van hulle aangestel het nie. Hoë lof, skryf Lizette Rabe in haar boek A luta continua: A History of Media Freedom, as ’n mens in ag neem dat Viljoen met sy meestersgraad in die joernalistiek aan Columbia-universiteit in New York die eerste Afrikaanse joernalis was met akademiese opleiding in sy vakgebied.

Dit was ook nie net met taalprobleme waarmee Louis sy vriend van raad gedien het nie.

Vir Markus, met sy belangstelling in geskiedenis en ’n teikengehoor in die middel van ’n depressie, was gedenkuitgawes oor belangrike geskiedkundige mylpale nie net deel van Die Huisgenoot se mandaat nie. Hy wou daarmee die volk weer trots maak op hulle herkoms en help om die kop te lig onder moeilike omstandighede.

Een van sy oogmerke was die herdenking van die Groot Trek in ’n spesiale, onafhanklike blad, ’n unieke versameluitgawe. Dis hier waar Louis gewys het hoe veelsydig hy was.

Met die aanvanklike beplanning van die inhoud was dit Louis wat voorstel hulle vra ook ’n buitelandse historikus, soos die Nederlandse historikus prof. Pieter Geyl van die Universiteit van Utrecht, om by te dra. Markus antwoord en vra dan of Louis nie eerder die vrawerk wil doen omdat sy Nederlands soveel beter as syne was nie. (Rudolph Hiemstra vertel in sy outobiografie hoe hulle pa al die jare die Hollandse taalgebruik, sinswendinge en spelling in Louis se briewe aan hom gekorrigeer en dan aan aan sy seun teruggepos het.)

Markus skryf ook dat die bekende kunstenaar J.H. Pierneef laat weet het hy teken iets vir die voorblad, en sê dan hy stuur die voorlopige sketse binnekort aan vir “kommentaar”. In nog ’n brief vra hy Louis se raad oor die tipografiese aspekte van die voorblad, en ook wat hy dink van die werk van W.H. Coetzer omdat hy hom wil nader om iets te skilder as Louis saamstem dis ’n goeie idee.

Eindelik verskyn die uitgawe in Desember 1938 – ’n publikasie wat tot vandag toe gereken word as een van die mees gesaghebbende versamelwerke in ons kultuurerfenis.

’n Man van teenstrydighede

Die aanbreek van die 50’s en veral die 60’s het ’n meer gewaagde en eksperimentele era in Afrikaanse skryfwerk ingelui. Al hoe meer skrywers, joernaliste en selfs uitgewers het begin haaks raak met wat hulle as die rigiede voorskriftelikheid van die Pers se gedugte taaladviseur ervaar het. Sommige het openlik begin rebelleer.

In ’n Vrye Weekblad-artikel getiteld “Tjips! Hier kom die taalpolisie” verwys die skrywer en uitgewer Deborah Steinmair na ’n Lewe met boeke, die memoires van Koos Human, medestigter van die uitgewery Human & Rousseau, waarin hy geen geheim maak van uitgewers se frustrasie met Hiemstra gedurende hierdie tydperk nie.

Koos vertel onder meer die staaltjie van Etienne Leroux, wat by geleentheid aan hom skryf: “Ek stuur vandag vir jou my boek Een vir Azazel. Sal jy dit asseblief aan een van jou betroubare taalkêrels voorlê? … Maar, asseblief, lê dit tog aan iemand voor wat ’n bietjie verbeelding het en nie ’n man se manuskrip sal opmors met al te suiwer Afrikaans nie.”

Louis Hiemstra in 1930

Oor Hiemstra skryf Koos: “Ek wil beweer dat hy wat mens ’n tegniese kennis van die taal kan noem, gehad het, maar weinig aanvoeling vir styl.” Hy noem dan die voorbeelde van In klein maat van Audrey Blignault, wat volgens Hiemstra ’n anglisisme was en eerder By die klein maat moes wees. En Fritz Deelman moes Frits Deelman heet.

In die algemene omgang, sê Koos egter, was hy ’n liewe en aangename mens, “’n hoogs beskaafde man met ’n ontsaglike algemene kennis”. Deborah skryf sy het ook sy naam raakgelees in Petrovna Metelerkamp se biografie van Ingrid Jonker.

“Die radelose Jonker het net voordat sy selfdood begaan het in ’n brief verwys na die handjie vol mense wat goed was vir haar. Mnr. Hiemstra is by daardie klein galery ingesluit.”

Sy broer beskryf weer watter passie Louis vir vasvrawedstryde gehad het, en hoe einste sy formidabele algemene kennis van hom in ’n stadium die Afrikaanse radiodiens se “vasvrakoning” gemaak het. Hy beskryf ook hoe Louis tydens ’n oorsese reis almal anders sat kon stap, en hoedat sy broer in al die jare wat hy gewerk het nooit sy kar gebruik het nie, maar gestap het waar hy moes wees.

Eindelik deel hy die bitter moeilike tyd toe Louis, met die ondersteuning van sy broers, moes eis dat sy pa die regte van Zwakwater aan hom oorteken in ruil vir al sy geldelike ondersteuning oor die jare, maar ook omdat sy pa se tweede vrou besig was om hom sodanig uit te buit dat die familie die gevaar geloop het om die plaas te verloor. Dit het ’n wig gedryf tussen die trotse ou patriarg en sy geliefde oudste seun op wie hy altyd so trots was.

Eindelik, sê Rudolph, was Louis vir hom en sy broers – in die woorde van Phil Weber, ’n gewese voorsitter van die Nasionale Pers-direksie – hulle “groot Gamaliël” aan wie se voete hulle kon sit.

’n Jaar na sy dood op 81 het die familie sy as langs dié van sy ma in Zwakwater se familiebegraafplaas begrawe.

Taalpionier

As taalbouer tydens ’n pioniersera vir Afrikaans het Louis Hiemstra weinig gelyke.

By sy begrafnisdiens in Kaapstad se Groote Kerk noem Phil Weber hom “ons taal se grootste praktiese taalkundige” en prof. J. du P. Scholtz “die soort vakman wat Afrikaans boweal nodig gehad het in sy vroeë vormingsjare as geskrewe taal – en ’n taalman wat Afrikaans nou nog moeilik kan mis …”

In die paar jaar voor sy dood het talle eerbewyse hom te beurt geval: die Akademie se eerste Markus Viljoen-medalje vir uitsonderlike joernalistieke prestasie, erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut, erelidmaatskap van die Akademie en ’n erepenning as erkenning van sy besondere diens aan Afrikaans as taal, en ’n eredoktorsgraad in die lettere van die toe Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Vandag is dit veral om die L.W. Hiemstra Trust wat hy onthou word.

In 1984 het Rikie Hiemstra, sy weduwee en vrou met wie hy op 46-jarige ouderdom getroud is, opdrag gegee dat die ruim boedel wat haar man nagelaat het – onder meer te danke aan sy fyn aanvoeling vir die aandelebeurs en suksesvolle beesboerdery op Zwakwater – gebruik word om ’n trust in sy naam te skep om Afrikaans te bevorder. Die egpaar het nie kinders gehad nie.

Oor die afgelope meer as drie dekades is die meeste steun deur dié trust verleen vir die publikasie van boeke oor, en in Afrikaans wat sonder subsidie nie vir uitgewers lonend sou wees nie, of vir kopers te duur. Die Trust borg ook die L.W. Hiemstra-prys, wat driejaarliks deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken word aan ’n oorspronklike niefiksiewerk in Afrikaans. Die jongste wenner was Elsa Joubert in 2020 vir Spertyd.

Die heel eerste boek wat deur die Trust gesubsidieer was, was die Versamelde prosa van N.P. Van Wyk Louw. Tafelberg het dit in twee dele uitgegee, met ’n subsidie van R26 500. In die eerste vyftien jaar van sy bestaan het die Trust R2,5 miljoen aan borgskappe uitbetaal, en tot en met Januarie 2022 is meer as R36 miljoen uitbetaal.

As die Afrikaanse taal ’n patatrank was, soos Mabel Jansen dit destyds beskryf het, het sy saadjies met die werk van Louis Wybren Hiemstra inderdaad op vrugbare aarde geval.

Bronne
“Briewe aan L.W. Hiemstra”, Die kantoor van die Geskiedenis van die Nasionale Pers
Rudolph Hiemstra, Die wilde haf, Human & Rousseau, 2001
Jurie Jacobus Joubert, Die geskiedskrywing in Die Huisgenoot 1923 – 1949 vir ’n MA in geskiedenis, Universiteit Stellenbosch, 1983
Lizette Rabe, A luta continua: A History of Media Freedom, African Sun Media, 2020
Deborah Steinmair, “Tjips! Hier kom die taalpolisie”, Vrye Weekblad, 28 Februarie 2020