Die Hiemstra-trust se maand lange skrywersverblyf

’n Wegbreekmaand in die winter in ’n knus, gerestoureerde kothuis in Stellenbosch se Banhoekvallei, kompleet met ’n stil skryfhoek, ’n volledig toegeruste kombuisie, gemakstoel en sementstoep wat oor wingerde en berge uitkyk, is sedert 2025 vir skrywers van ’n tweede of derde boek beskikbaar om elke jaar vir die hele Juliemaand kosteloos en sonder onderbrekings op hulle skryfprojek te fokus.

  1. Wie kan aansoek doen

Skrywers wat vir die Trust se skrywersverblyf in aanmerking sal kom, moet reeds gepubliseer het, saam met ’n uitgewer werk en nie toegang tot ’n navorsingsbeurs, of genootskap het nie. Hulle moet besig wees met ’n tweede, derde of verdere literêre werk (dus ’n roman, digbundel, of drama), waarmee hulle al ver gevorder het, maar waarvoor hulle weens omstandighede of werkverpligtinge nie genoeg alleen- skryftyd, of ’n geskikte plek het om die projek te finaliseer nie.

  1. Wat sluit die Skrywersverblyf in
  • Verblyf

Die Trust bied gevestigde skrywers ’n maand se verblyf in ’n veilige, private en maklik bereikbare plek om gratis te kan woon en werk, maar ook te ontspan en herlaai.

Die praghuisie op die plaas Boven in Stellenbosch se Banhoekvallei het vinnige internet en genoeg geriewe om ligte etes te maak wanneer die skrywer nie lus is vir uitgaan, of aflewering nie moontlik is nie. Dis naby genoeg aan die dorp vir ’n blaaskans, inkopies of noodgevalle, en ook naby ’n groter lokaal op die plaas, wat as alternatiewe skryfplek gebruik kan word, vir net sit en lees, of waar oenfenings selfs gedoen kan word – die gasvrou sal sê wat moontlik is.

  • Vervoer

Suksesvolle kandidate wat binne ’n radius van 50 km van die skrywersverblyf woon, moet self daar kom. Kandidate wat verder weg woon, sal vergoed word vir óf ’n retoervlug en Uber-koste van en na die lughawe, óf brandstofkoste om Stellenbosch toe en terug te ry.

  • Daggeld

Die skrywer ontvang ook ’n toelaag vir ’n maand se etes.

  1. Hoe om aansoek te doen

Aansoekers wat glo hulle kwalifiseer, moet die volgende stuur:

  • ’n aansoekbrief (nie langer as twee bladsye nie) wat moet insluit
    • ’n motivering vir die aansoek (met ’n bondige opsomming van persoonlike omstandighede),
    • ’n beskrywing van die skryfprojek (genre, onderwerp) en hoe ver hulle vordering tot dusver was, en
    • ’n kort CV
  • ’n aparte brief van die uitgewer wat motiveer hoekom die skrywer ’n geskikte kandidaat vir die skrywersverblyf is
  1. Spertyd vir aansoeke

Die jaarlikse spertyd vir aansoeke is vóór middernag op 31 Maart. Aansoeke kan van die begin van Januarie van die betrokke jaar aan Pamela.Moses @absa.africa ge-e-pos word, met die onderwerp: Aansoek: Hiemstra-trust Skrywersverblyf.

  1. Keuring en bekendmaking

Die aansoeke word oorweeg deur ’n paneel van sewe mense: vier trustees van die Trust en drie buite-paneellede. Die buite-paneellede word gekies op grond van hulle leeskennis.
Die paneel maak binne 14 dae sy keuse bekend, en die besluit is finaal.

  1. Wat word uiteindelik verwag?

Van die skrywer:
Vir gevestigde skrywers is die maand lange verblyf die geleentheid om, ongepla, vir ’n maand in ’n stil plek net op hulle manuskrip te fokus met die doel om na afloop daarvan ’n byna finale, of selfs finale manuskrip aan hulle uitgewer te kan oorhandig.

Van die uitgewer:

Die uitgewer en skrywer moet vooraf bespreek wat die mikpunt is vir die einde van Julie, en wat nodig is om dit te bereik. Die uitgewer moet ook na afloop van die skrywersverblyf ’n kort verslag aan die Trust stuur om te sê in watter mate vordering gemaak is.

Ons skrywers

In 2025 het Sjaka S. Septembir die Trust se skrywersresidensie bygewoon. Sy Dharma-dwaas in doodloopstraat is vroeg in 2026 gepubliseer, die derde aflewering in ’n trilogie.

*Dianne Du Toit-Albertze is vir 2026 se verblyf gekies.