
Die nuus van die onverwagse dood van Johan Jack Smith, Taalgenoot-redakteur, bekroonde skrywer en die tweede Jaap Steyn-beurshouer, aan ’n hartaanval in Julie 2023 was ’n skok.
Die charismatiese Johan het nie net pryse ingeryg met sy tydskrif nie. Sy misdaadroman, Zola, het in 2020 die Eugène Marais-debuutprys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, en was op die kortlyste van sowel die UJ-prys as die kykNet Rapportprys vir onderskeidelik beste roman en die rolprentprys. Hy is ook in Maart 2023 aangewys as die ontvanger van die Jaap Steyn-beurs vir ’n MA-student in skeppende skryfwerk aan die Universiteit van die Vrystaat.
Die Hiemstra-trust, in samewerking met die universiteit se departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, het beurs aan die begin van die vorige jaar ingestel ter nagedagtenis aan prof. Jaap (JC) Steyn, die geliefde Vrystaatse skrywer, dosent en navorser, wat in September 2021 in Bloemfontein oorlede is. Die kontantbeurs word in twee paaiemente betaal, en die digter Lynthia Julius was die eerste ontvanger daarvan.

“Die gedagte is dat ons dit aan iemand gee wie se manuskrip in dié vroeë stadium van ontwikkeling die meeste potensiaal vir publikasie toon,” het Francois Smith, dosent in kreatiewe skryfkuns, destyds met die bekendstelling van die beurs gesê. Studente moet aan die einde van hulle tweede jaar van die graadkursus ’n voltooide manuskrip hê wat hulle vir publikasie kan voorlê.
Dis met dié doel in gedagte – en in die gees van Jaap Steyn se nalatenskap – dat besluit is om die tweede helfte van 2023 se beurs ná Johan se dood steeds toe te ken, en aan nog ’n belowende student in die MA-groep. Die 31-jarige Jacques (JBG) Myburgh, ’n Pretorianer en Huisgenoot-joernalis, wat al met ’n ATKV Mediaveertjie, Standard Bank Sikuvile- en Vodacom-prys bekroon is, is daarom die tweede 2023-beurshouer.
Hy beskryf die meevaller as “’n seën en die motivering wat ek nodig gehad het om dié wa deur die drif te kry”.
Hooffoto: Johan Jack Smith