Sunita Keyser laat haar nie onderkry nie.
Sy was 40 jaar lank ’n boervrou – “na aan die natuur, maar dikwels soekend na woorde” – toe sy in haar middel 70’s besluit het om terug te keer universiteit toe. Sy het ingeskryf vir die tweejaar-meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), maar aan die einde van haar eerste jaar is haar man, ’n boer van Bothaville, oorlede. Kort daarna hoor sy sy is die ontvanger van die 2024 Jaap Steyn-beurs.
Die beurs is twee jaar vantevore deur die LW Hiemstra Trust ingestel in samewerking met die UV se Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans ter nagedagtenis aan prof. Jaap (JC) Steyn, die geliefde Vrystaatse skrywer, dosent en navorser.
Die nuus van die beurs was ’n totale verrassing, sê Sunita, maar een met ’n enorme impak omdat sy dit juis tóé, in ’n tyd van groot hartseer en ontwrigting, gehoor het.
“Die finansiële aspek daarvan maak dinge net soveel makliker. Méér nog gaan dit om die aanmoediging wat dit gee en die versekering dat wat jy doen – voortgesette leer – ondersteun en waardeer word. Om boonop die kans te kry om onder mense soos prof. Henning Pieterse en dr. François Smith te kon leer van die skryfkuns en te delf in eie aanleg … dit maak van die afgelope twee studiejare ’n besondere trajek in my lewe.”

Uiteindelik kon sy haar finale jaar afsluit met ’n onderskeiding vir haar graad. “Daar was sommer ’n nuwe lig van respek in my kinders se oë!”
As ’n geswore boekwurm het Sunita destyds ’n B.A.-graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal met Engels as hoofvak. Sy het dit opgevolg met ’n B.Sc.Farmasie aan die Universiteit van Potchefstroom, waarna sy as ’n apteker gewerk het. In dié tyd het sy ’n Hons.B.A. in Sielkunde deur UNISA voltooi, en later ’n Diploma in Vertaling.
Nadat sy met Dawie Keyser getroud is, het die egpaar geboer totdat hulle ná hulle aftrede Bloemfontein toe getrek het. Haar kinders is intussen Kanada toe, waar hulle op die dorp Leader in Saskatchewan woon. “My hart word altyd seer as ek die storie hoor van die seuntjie wat vir sy ma vra: ‘Mamma, hoekom bly ouma in ’n skerm?’ Nou ja, ek is ook ’n ouma wat in ’n skerm woon.”
Sunita het op ’n digbundel vir haar manuskrip besluit en dit onlangs heimlik vir ’n uitgewer gestuur. “Kom wat wil, dit was ’n mylpaaloomblik toe ek die laaste woordjie van daardie e-pos neerstip met die punt daarna.
“Ek hou van die orde en dissipline van, en in ’n gedig,” sê sy. “Ek het ook onlangs uitgevind hoe uitdagend dit is om ‘pickleball’ te speel. Maar selfs op die baan, agter die vinnige bal aan, rus my kop nie. Dit is geprogrammeer met woorde wat net altyd van êrens af kom. Skryf sal ek daarom steeds.
“En daar is nog iets wat aan my kielie: kopieskryf. Ek glo ek sal binnekort ’n versigtige tree in daardie rigting gee. Idees met woorde bou. Altyd met woorde bou. Want woorde was van kleins af my vriende en my speelgoed.”
Die vorige Jaap Steyn-beurshouers is Lynthia Julius (2022), Johan Jack Smith en, ná Smith se onverwagse dood, Jacques (JBG) Myburgh (2023).