Van bank tot boek

“Jong, ja, ek weet nie hoe dit gebeur het nie,” sê hy. “Ek aanvaar maar die manne se oordeel en ek is dankbaar daaroor.”

Só reageer die 83-jarige Johannes Hamman oor die nuus dat hy 2025 se ontvanger is van die J.C. Steyn-beurs vir ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van die Vrystaat. Die beurs word jaarliks deur die Hiemstra Trust en die universiteit se Departement Afrikaans en Engels, Duits en Frans toegeken aan die mees belowende student in die eerste van die graad se twee jaar. Syne is ’n laat roeping, maar nie ’n ligte een nie – hy pak dit met dieselfde vasberadenheid aan waarmee hy destyds ’n bank help stig het.

Johannes is op pad na 84 en vir die kursus werk hy heeltyds aan ’n nuwe roman. Die skryfgogga het die eerste keer gebyt toe hy nog as tjokker ‘n storie in Die Jongspan kon publiseer, vertel hy. Op hoërskool het hy weer ’n Vlootbond-opstelwedstryd gewen – met die rojale prysgeld van R3!

Johannes Hamman
Johannes Hamman

Daarna het sy lewe egter ander draaie geloop: van die regbank tot die bankwese, van Tukkies tot 27 jaar in Johannesburg en Roodepoort, waarna hy omtrent dieselfde tyd as Nelson Mandela, “vrygelaat” is. “Hy het staatspresident geword. Ek het Hermanus toe verhuis. My keuse was beter,” spot hy.

Johannes is na sy regstudies as advokaat toegelaat, maar was uit die staanspoor aangetrokke tot die sakewêreld. In 1970 stig hy en drie ander entrepreneurs Finansbank, waarvan hy uiteindelik besturende direkteur word. Hy is ook in verskeie hoedanighede by Fedsure betrokke, onder andere as uitvoerende adjunk-voorsitter.

Sy lewe as aksepbankier en sakeman, vir 30, 40 jaar betrokke by die uitmekaarhaal en opbou van nuwe maatskappye het hom onder meer geleer om helder te skryf en presies te formuleer, sê hy. “Jy moes mense oortuig jy het geen verskuilde agenda nie; hulle as ’t ware ‘lus maak’ vir die transaksie.”

Maar om kontrakte, prospektusse en verslae te skryf is heeltemal anders as fiksie. “Die kursus help my daarom om ’n klomp slegte skryfgewoontes af te leer (te klinies en kripties skryf) en gesondes aan te leer (die inbring van nuanse, intrige en humor).”

Hy het weliswaar een roman agter die blad. In 2021 het hy Ysterklou Beperk self uitgegee nadat die uitgewersusters van Hemel en See Boeke, Petrovna Metelerkamp en Helga Steyn, hom met raad en daad bygestaan het.

Ysterklou is die verhaal van die sogenaamde klein Hamman-trek wat in die skadu van die Magaliesberg eindig tydens die uittog van die Voortrekkers. Die verhaal volg nie net die nageslag van daardie trek oor twee eeue nie, maar bekyk ook die impak van dié inkomelinge se aankoms op die inheemse mense – in besonder die Bakwena, die mense van die Krokodil.

“My ma was ’n nooi Steenekamp uit ’n geharde Groot Trek-familie. Die saadjie vir die boek is geplant toe ek tant Anna Steenkamp se verhaal teëgekom in Gustav S. Preller se Voortrekkermense II. Ek het my begin afvra: Wat dryf mense om alles agter te laat en die onbekende in te vaar, en wat is die uitwerking van so-iets op hulle en die mense om hulle?

“Ek was so trots op daardie boek, maar toe ek dit weer lees, het ek besef dis nie goed geskryf nie.” Dis hoekom hy ingeskryf het vir ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk.

’n Groot invloed op sy ontwikkeling as skrywer is Willem Anker se Buys: ’n Grensroman.

“Ek is lief vir aweregse, nie-hoofstroom weergawes van Suid-Afrikaanse geskiedenis. Tant Anna Steenkamp was byvoorbeeld terselfdertyd ’n stoere Christin én ’n verbete rassis met ’n baie eng lewensuitkyk. Ek het die rou eerlikheid van haar vertelling geniet, maar dit is vandag totaal onvanpas. Netso het ’n skeibreker soos Coenraad de Buys nie in my skoolboeke bestaan nie.”

Sy essay oor Buys was een van die redes hoekom hy die beurs ontvang het. In sy navorsing het hy Anker se karakter vergelyk met mitiese figure en ander grenskarakters in die Afrikaanse letterkunde. Vir hom staan Buys op dieselfde rak as Triomf van Marlene van Niekerk.

‘Skryf is ’n alleenproses. Ek worstel maar op my eie voort.’

Johannes se nuwe roman, Wonderwater, is tans “halfgebak in die oond” en speel – soos die vorige – af in Zandfontein, ’n fiktiewe dorpie. Waar Ysterklou die dorpselite se storie vertel, fokus hierdie een op die gewone dorpenaars. En as hy kan uithou, is daar dalk selfs ’n derde boek – oor die randeiers van Zandfontein. Hulle leef al klaar in sy kop.

Die pad is stadig. Hy skryf woord vir woord, soms ure lank aan een sin en hersien eindeloos. En hy wil liewer nie te veel sê oor wat nog broei nie. “Skryf is ’n alleenproses. Ek worstel maar op my eie voort.”

Al is sy vrou, Lorenza, twee jaar gelede oorlede bly haar teenwoordigheid tasbaar. Hulle was van graad 1 af saam en vir byna 60 jaar getroud. In dié nuwe fase van sy lewe leef hy egter daagliks met sy karakters, en leer hy by die beste.

“Om te werk onder leiding van absoluut geskoolde vakmanne verruim eenvoudig jou visie. Elke woord tel. Dit dit maak dit tegelyk frustrerend en verskriklik lekker.”