Lynthia wen eerste Jaap Steyn-beurs

Haar laatmiddag was nie “chroom” soos in Gert (Vlok Nel) se gedig nie. “Dit het ‘room’ geword soos in Oom NP se gedig,” skryf Namakwalander Lynthia Julius by die aanhoor van die nuus dat sy die eerste ontvanger is van die Jaap Steyn-beurs vir kreatiewe skryfwerk.

Die Hiemstra Trust het die beurs aan die begin van 2022 ingestel, in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, ter nagedagtenis aan prof. Jaap Steyn, die geliefde Vrystaatse skrywer, dosent en navorser, wat in September 2021 in Bloemfontein oorlede is. Hy was 83 jaar oud.

Die 28-jarige Lynthia van Springbok is in die finale jaar van haar meestersgraadkursus in kreatiewe skryfwerk, onder leiding van prof. Henning Pieterse en dr. Francois Smith. Sy het al as groentjiestudent naam gemaak as die wenner van die Afrikaans-taalkategorie in die Avbob-digkunswedstryd. In 2021 verskyn haar debuutbundel, Uit die kroes, by Kwela.

Resensente prys veral die manier waarop sy die Noord-Kaapse leefwêreld hierin oproep, en die kreatiewe manier waarop sy die posisie van ’n jong, bruin vrou in vandag se Suid-Afrika ondersoek en Nama-woorde in haar gedigte inwerk.

Wat Nama betref, sê Lynthia sy wens sy kon ’n hele gedig daarin skryf, maar die tragedie is al het haar oumagrootjie Nama vlot gepraat, is die taal nooit aan haar ouma, ma en haar oorgedra nie. “Dis die hartseer van die saak.”

In haar bedankingsbrief aan die Trust, skryf sy, sy het by die hoor van die nuus “soos Donkie Viviers in Gert Vlok Nel se gedig my kop vasgehou”.

Jaap Steyn FOTO: NALN

Jaap Steyn, aan wie die beurs opgedra is, was ’n plaasseun van Fouriesburg se wêreld. Hy word later joernalis by Die Volksblad en Die Burger en toe dosent, eers aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou Universiteit van Johannesburg) en eindelik sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat.

Sy literêre en vakkundige nalatenskap is aansienlik: ’n digbundel, kortverhale, novelle, outobiografie – bykans almal bekroon, toonaangewende biografieë van Van Wyk Louw, Die Burger-redakteur Piet Cillié en M.E.R, die taalgeskiedenis Ons gaan ’n taal maak, en in 2016 ’n monument van ’n taalpolitieke werk, Tuiste in eie taal. Hy is nie minder nie as ses keer deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer, onder meer in 2005 met die L.W. Hiemstra-prys vir niefiksie vir Die 100 jaar van M.E.R.

Steyn het geglo die beste benadering tot die skryf van ’n biografie is die kombinasie van empatie en afstand – vertel iemand se lewe so eerlik en goed as wat jy kan, doen dit so interessant as wat jy kan, maar moenie die tweede nastreef ten koste van die eerste nie. Hy was besig om die geskiedenis van die UV se departement Afrikaans en Nederlands te dokumenteer ten tyde van sy dood.

* Lynthia se Uit die kroes is sedertdien met die 2021 Sala-debuutprys bekroon, en het die kortlyste gehaal van die UJ-debuutprys, die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys. In 2023 werk Lynthia saam met Veronique Jephtas aan die teaterprojek My kroon se krank [italics] en in 2024 word sy aangewys as die wenner van die Jan Rabie-Marjorie Wallace-skryfbeurs, met haar tweede bundel, Kinderlê [italics], wat in Maart van dieselfde jaar by Kwela verskyn. Sy werk tans aan ’n PhD en haar debuutroman.