Sport skep ’n brug

Jaap Steyn-beurs · 2026

Ná amper 15 jaar in die sportkantoor waag Rapport-joernalis Marizanne Kok dit nou aan fiksie.

Marizanne Kok, ontvanger van die 2026 Jaap Steyn-beurs vir skeppende skryfwerk.

“Sportjoernalistiek het my eintlik geleer om in ’n losser en meer kreatiewe styl te skryf omdat ek eerder op die atlete as mense gefokus het as op tegniese ontledings,” sê Rapport-joernalis Marizanne Kok, wat in Augustus 2026 die Hiemstra-trust en Universiteit van die Vrystaat se Jaap Steyn-beurs vir skeppende skryfwerk ontvang het.

Die beurs word jaarliks toegeken aan die meestersgraadstudent in skeppende skryfwerk wie se manuskrip aan die begin van die tweede en finale studiejaar die meeste belofte toon, aldus dr. Francois Smith, hoof van die UV se departement Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans, wat die kursus aanbied.

As sport- en nuusjoernalis het Marizanne al ’n rits pryse gewen, maar hierdie is ’n heel ander soort bekroning wat haar skoon uitgeboul het, vertel sy aan Netwerk24 se AJ Opperman. Sy wou al lankal haar hand aan skeppende skryfwerk waag, maar die besluit om dit uiteindelik te doen het gekom nadat Media24 ’n e-pos oor beurse gestuur het.

“Ek onthou ek het gedink laat ek kyk of ek dit kry en dan of ek by Kovsies inkom. Ek onthou ek moes ’n manuskrip van 5 000 woorde instuur. En toe word ek gekies!”

Grondslag in die sportkantoor

Maar haar jare as sportjoernalis het die grondslag gelê.

“Ek was absoluut versot daarop en het dit vir amper 15 jaar gedoen. Dit het my onder meer na twee Olimpiese Spele en twee Britse Ope-gholftoernooie geneem, en dit het eintlik per ongeluk gebeur.

“Ek het in Mei 2007 as intern by Rapport begin werk, en net toe die internskap eindig, het ’n pos in die sportkantoor oopgegaan. Ek was nog altyd mal oor sport, en vreemd genoeg het my joernalistieke paaie my altyd by sport uitgebring, eers by die skoolkoerant, toe by Wapad terwyl ek in Potch geswot het, en eindelik ook by Wits se kampuskoerant, Vuvuzela. So dit het eintlik gevoel dit was in die sterre geskryf …”

“Ek was absoluut versot daarop en het dit vir amper 15 jaar gedoen.”

Uiteindelik het sy egter besluit om te kyk wat sy as nuusjoernalis kan uitrig.

“En ek was nog nooit spyt dat ek daardie sprong gemaak het nie, maar ek moet erken ek vang myself so nou en dan dat ek wens ek kon oor Rassie se Super-Springbokke skryf. Hulle was nooit so spectacular terwyl ek rugby geskryf het nie!”

Stories uit die verbeelding

Haar pad na die joernalistiek was ook nie die gewone een nie. Ná skool het sy eers ’n BSc-graad in bedryfswiskunde en informatika behaal en daarna ’n honneursgraad in joernalistiek. In 2024 was sy die ontvanger van die Wits-joernalistieksentrum en Sanef se sakejoernalistiekgenootskap.

Maar die lus om stories uit haar eie verbeelding te skep, kom al van veel vroeër.

“My eerste kreatiewe skryfpoging wat my bygebly het, is ’n Engelse verhaal in matriek oor ’n vrou wat by ’n aborsiekliniek instap. Ek het dit afgesluit waar sy uitstap met teenstrydige emosies – regret and relief – maar het nooit gesê of sy wel die aborsie laat doen het nie. Ek het net gedink dis sterker om die leser te laat wonder.

“Wat daarvan geword het, weet ek ongelukkig nie. Dis jammer, want ek sou dit graag weer wou lees om te sien watter soort skrywer ek destyds was.”

Vir haar Vrystaatse meestersgraad het sy maandeliks tussen Johannesburg en Bloemfontein gependel. In November het sy haar manuskrip, met die werkstitel Klatergoud en zama-zamas wat ’n hoofrol speel, ingehandig.

“Ek het al lank gewonder of ek fiksie kan skryf. Ek skryf oor ander mense se verhale, maar ek het nie geweet of ek iets in my kop kan opmaak wat leesbaar is nie. Ek wou sien of ek dit kan doen …”